Die Vodacom Bulls sal vandag wonder hoe hul dit reggekry het om ‘n wedstryd te verloor waarin hul vir groot gedeeltes oorheers het. Die Bulls het Saterdagaand met 29-23 teen die Blues verloor op Loftus Versfeld.
Van drama was daar meer as genoeg, met Ali Williams se geelkaart, Bjorn Basson se verdoelde drie in die doodsnikke om die verloor-bonuspunt te behaal, Rene Ranger se onverskillige poging tot ‘n duikslag toe Basson oorduik, en dan les bes Johannes Gideon Nel se onnosele poging om Kevin Mealamu te vertel wat hy van hom dink.
Vroeg reeds het die Blues gewys dat hulle nie ‘n halwe kans gegun moet word nie, toe Gareth Anscombe ‘n aanslaan deur Francois Venter uit die lug te gryp, en deur te naal vir ‘n drie wat hy self verdoel het. Vinnig was die telling 7-0 in die besoekers se guns. Kort daarna is Werner Kruger gestraf by ‘n skrum, en die 20-jarige Anscombe het sy span se voorsprong opgestoot na 10-0.
Die Ligbloues het egter kalm gebly en het seker gemaak hulle beskerm hul losbal goed, en het lynstaan na lynstaan afgedwing in die Blues se kwartgebied. Herhaalde oortredings by die rolmale het gelei tot ‘n geelkaart vir Ali Williams. Met die manne van Auckland beperk tot net 14 spelers was daar nog ‘n lynstaan opgesit in hul kwartgebied, en so kon Bulls-kaptein Pierre Spies sy span se eerste drie aanteken. Morne Steyn het sy eerste van 4 verbroude pogings wyd van die merk gestuur. Steyn het ‘n ruk daarna die telling 10-8 gemaak, net om te sien hoe sy direkte opponent die voorsprong weer herstel op 13-8.
Kort voor halftyd het die Blues deur Anscombe gedruk, en hy het weer nie fout gemaak met die doelskop nie. Toe halftyd aanbreek was die tellign 20-8 in die besoekers se guns, en die Bulls kon maar net wonder hoe hul kon agter wees, na die Blues 10 keer gestraf is in die eerste helfte, waarvan 8 strafskoppe by die afbreekpunte was. Persoonlik dink ek die Blues het telkens professionele oortredings begaan by die afbreekpunte, om ons momentum te stuit. Ek reken Steve Walsh kon gerus nog ‘n geelkaart uit sy sak gehaal het, met Daniel Braid die voorste kandidaat na sy 4 strafskoppe.
Steyn het in die 53ste minuut met ‘n rare suksesvolle stelskop geslaag, maar na die jonge Anscombe nog twee van sy eie strafskoppe deur die pale gejaag het was die telling 26-11. Moeilikheid vir die tuisspan.
Die Bulls wou egter nie gaan lê nie, en het twee drieë gedruk in die laaste kwartier, met die Blues wat slegs met ‘n enkele strafskop kon antwoord. Na Bjorn Basson oorgeduik het in die laaste oomblikke, met Rene Ranger wat laag ingevlieg het sonder arms, was daar groot drama met skeidsregter Walsh wat aan Spies vertel het sy span verdien ‘n strafskop na Ranger se geelkaart, maar dat die doelskop die beweging sou beëindig. Dus was die strafskop toe nooit toegeken nie. Met die Bulls wat op daardie stadium momentum gehad het, en die besoekers beperk tot 14 man, kon enigiets gebeur het. Maar dit is alles blote spekulasie.
Die Bulls het ‘n wedstryd verloor waarin hul die eerste helfte oorheers het met 59% balbesit en 69% gebiedsvoordeel. Die tuisspan het byna 6 minute spandeer in hul opponente se kwartgebied, en kon slegs 8 punte aanteken, terwyl die Blues ‘n beter treftempo gehad het met 20 punte na slegs 27 sekondes in die Bulls se 22 meter area (let wel, hierdie tye word gemeet as die bal in spel is).
Tydens die tweede helfte was die Blues span 61% van die tyd wat bal in spel was, in die Bulls se halfgebied, terwyl die Ligbloues nogsteeds die meerderheid van besit gehad het met 57%.
Net ‘n laaste woordjie oor Morne Steyn. Die gewoonlik betroubare stelskopper kon op die dag slegs 3 uit 7 skoppe oorjaag. Dit is volgens sy eie hoë standaarde, ‘n patetiese vertoning. Maar ons kan hom nie kwalik neem vir die verloor nie, ons het genoeg bal en kanse gehad om die wedstryd te beklink. Dit is hartseer dat Morne sy span al deur soveel swak vertonings tot ‘n oorwinning kon skop, maar die keer toe sy span hom moes dra, hulle dit nie kon doen nie.
Na ons loslootjie die komende naweek, sal ons hopelik weer naby aan volsterkte wees met die verwagte terugkeer van Johann Sadie, Wynand Olivier en Arno Botha. Dewald Potgieter sal ook binnekort begin met sy rehabilitasie, na sy gips verlede week verwyder is.