Met ‘n swaar gemoed
Bulls ransel Lions af in die leeukraal
Die Vodacom Bulls het Saterdagaand met ‘n bonuspunt oorwinning oor die Lions hul posisie op die Super Rugby punte-leër verstewig, en staan nou op dieselfde aantal punte as ‘n sekere span uit Slaapstad.
Die Bulls het 5 drieë teenoor 2 gedruk, om met 32-18 te seëvier op Ellis Park. Die telling vertel egter nie die volle verhaal nie. Die Ligbloues het etlike kanse gehad, net om dit te verbrou, en die punteverskil kon maklik dubbeld soveel gewees het. Morne Steyn het weer gesukkel met die skopvoet, en kon die keer net met 3 pogings uit 8 slaag, voorwaar rede tot groot kommer.
JJ, Wilhelm kry kans in beginspander is
Die afrigter van die Vodacom Bulls, Frans Ludeke het besluit om JJ Engelbrecht en Wilhelm Steenkamp los te laat op die Lions hierdie komende Saterdag.
Beide die spelers het gereelde verskynings op die veld gemaak die seisoen, maar dit was nog elke keer van die reserwebank af. Veral Engelbrecht het telke male ‘n verskil gemaak van die bank af, en moes al ‘n paar maal vir Johann Sadie vervang as gevolg van ligte stampe en stote.
Dit is dan ook in Sadie se plek wat JJ Saterdag sal opdraf. Sadie is een van drie reserwe agterspelers, die ander is Jano Vermaak en Louis Fouche.
Voorspelling: Vodacom Bulls vs Crusaders, Saterdag 7 April 2012
Die Vodacom Bulls is gekwes na ‘n nederlaag teen die Stormers in Slaapstad verlede naweek, en nou dat hul terug is in die Bulkraal, sal hul hul Super Rugby veldtog terug op die wenpad wil kry. Hul teenstanders Saterdag op Loftus is die Crusaders, een van die mees suksesvolle Super Rugby spanne ooit.
Die Crusaders het hierdie seisoen nog nie die wêreld aan die brand gespeel nie, en sukkel veral met baie hanteerfoute. Die manne van Canterbury beskerm egter hulle bal goed, en hou daarvan om die wydte van die veld te gebruik.
Ludeke maak geen veranderinge
Die span van die Vodacom Bulls wat Saterdag teen die Crusaders op Loftus Versfeld speel, is dieselfde een wat verlede naweek met ‘n bonuspunt van Nuweland teruggekeer het.
Die Vodacom Bulls se afrigter, Frans Ludeke, het sy vertroue in dieselfde 22-tal as teen die Stormers uitgespreek om teen die spogspan van Canterbury te speel.
Ludeke het gesê sy span kry ‘n kans om die foute van verlede naweek reg te stel, maar bygevoeg dat die Crusaders selfs meer eise as die Stormers kan stel, al is die wedstryd op Loftus Verfeld.
17 Bulletjies haal vergrote Baba Bokkies oefengroep
Die Blou Bulle het 17 spelers in die o20 Bokkies se vergrote oefengroep wat ‘n oefenkamp van 10 tot 23 April sal bywoon in Slaapstad… ekskuus, Kaapstad.
Die enigste ander unie wat naby aan die getal spelers kom, is die Westelike Provinsie met 10 spelers.
Daar is wel ‘n paar spelers wat as gevolg van Super Rugby verpligtinge, en beserings, nie oorweeg is vir die oefengroep nie. Steven Kitshoff (WP), Paul Jordaan (Sharks), Johan Goosen (Vrystaat), William Small Smith (Blou Bulle), Paul Willemse (Goue Leeus), Ruan Botha (Goue Leeus), Ettiene Oosthuizen (Goue Leeus) sal almal wel in aanmerking kom vir die finale groep vir die o20 Wêreldtoernooi in Stellenbosch en Kaapstad later vanjaar.
Swart, nee Pienk dag op Nuweland
Die Bulls het Saterdag vasgeval teen die Stormers op Nuweland en met 20 -17 verloor op ‘n dag wat seker meer pienk as swart beskou kan word. Voor ek oor die wedstryd gesels, as ‘n baie passievolle Bulls ondersteuner was die pienk gewaad nou glad nie vir my mooi nie. Behalwe vir die pienk truie, moes hulle nou nog met pienk broeke en pienk kouse ook uitdraf, en ek is jammer maar Dean Greyling of Pierre “Die Bus is Vol” Spies lyk glad nie so goed of eerder skrikwekkend in pienk nie. Maar dit daar gelaat…
Nommer een posisie op die spel in Kaapstad
Die Vodacom Bulls en die DHL Stormers pak mekaar Saterdagaand in ‘n wedstryd op Nuweland met die nommer 1 posisie op die punte-leër wat op die spel is. Met die nuwe konferensie stelsel wat die punte-leër snaaks laat lees, kan ‘n Kaapse sege die Bulls hul 4e plek laat omruil met die Stormers.
Die Kapenaars sal, soos in die onlangse verlede, meeste van hul energie gebruik om ons baldraers agter die voordeellyn te probeer stuit. Dit is ‘n taktiek wat die Sharks veral, maar ook die Stormers, in die laaste twee jaar met welslae gebruik het. Kry hulle dit reg om Dean Greyling, Flip van der Merwe en Jacques Potgieter agter die voordeellyn te stuit, sal die besoekers sukkel om momentum op te bou. Word die stormramme nie gestuit nie, kan dit ‘n lang dag vir die tuisspan word.
Ludeke behou wenspan
Die span van die Vodacom Bulls wat Saterdag teen die Stormers op Nuweland in Kaapstad speel, toon geen veranderinge aan die een wat verlede Saterdag met die Reds afgereken het nie.
Afrigter Frans Ludeke kon weer dieselfde beginspan kies, die eerste keer vanjaar dat beserings nie sy keuses verander nie.
Hy moes nietemin ‘n verandering aan die plaasvervangerbank maak, waar Willie Wepener weens ‘n ontsteekte senuwee in sy gesig moes onttrek.
Bongi Mbonambi, wat tot dusver in die Blou Bulle se Vodacombekerspan diens gedoen het, is in sy plek gekies. Dit sal Mbonambi se debuut in die Vodacom Super Rugby-reeks wees as hy speelkans kry.
Slegs een verandering vir Blou Bulle
Hulle moet nou daardie momentum behou wat met die goeie sege afgelope naweek opgebou is, ongeag die moeilike taak om die Luiperds op hul tuisveld in Portchefstroom te probeer tem, het die Blou Bulls-afrigter, Pine Pienaar, Woensdag gesê.
Ná hulle puik sege oor die Goue Leeus is die span gretig om op die wenpad te bly, het Pienaar laat blyk.
“Ons moet aanhou verbeter. Om met ‘n nederlaag en toe ‘n gelykop-uitslag te begin was nie goed genoeg nie en daarom was die sege teen die Leeus ‘n bevestiging van waartoe ons in staat is. Die Luiperds weg is ‘n taaie, maar ons het nie ‘n keuse anders as om te wen as ons steeds op die punteleer wil vorder nie.”


