Die Vodacom Bulls is gekwes na ‘n nederlaag teen die Stormers in Slaapstad verlede naweek, en nou dat hul terug is in die Bulkraal, sal hul hul Super Rugby veldtog terug op die wenpad wil kry. Hul teenstanders Saterdag op Loftus is die Crusaders, een van die mees suksesvolle Super Rugby spanne ooit.
Die Crusaders het hierdie seisoen nog nie die wêreld aan die brand gespeel nie, en sukkel veral met baie hanteerfoute. Die manne van Canterbury beskerm egter hulle bal goed, en hou daarvan om die wydte van die veld te gebruik.
Met Dan Carter wat onlangs teruggekeer het na ‘n besering, sal die Crusaders hoop daar is ‘n oplewing in hul spel. Verlede naweek het Tom Taylor die stelskoppe waargeneem uit die buitesenter posisie, maar hierdie naweek behoort Carter die leisels oor te neem.
Een van die groot bekommernisse vir Bulls-afrigter, Frans Ludeke bly sy span se dissipline. Verlede Saterdag is 15 strafskoppe afgestaan, en was dit nader, of selfs onder die 10-merk, kon die uitslag anders gewees het. Soos die manne van Supersport egter in hul SuperWrap kolom skryf, die Bulls behoort nou elke tegniese punt van elke skrumreël te verstaan, want hulle is al wraggies vir elke moontlike situasie gestraf!
Gepraat van die skrums, die voorry van Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle en Dean Greyling kom teen hul strafste toets te staan as hul kragte meet met Owen Franks, Corey Flynn en Wyatt Crockett. Min ondersteuners sal stry met ‘n stelling dat die drie Nieu-Seelanders die sterkste voorry in die kompetisie is. Met beide Kruger en Greyling wat die jaar al telke male gestraf is, kan die skrums ‘n deurslaggewende rol speel op die uitslag.
Dan het die besoekers se agterste driehoek teen die Lions begin wys waartoe hul in staat is. Indien Israel Dagg, Sean Maitland en Zac Guildford te veel spasie gegun word, sal daar perde wees! Terwyl ek Maitland en Guildford nie vreeslik hoog aanslaan nie, is hulle baie gevaarlike afronders. Agter hulle is Dagg sekerlik een van die opwindendste heelagters in die kompetisie.
Dan sal die jong Johann Sadie wil vergoed vir sy verdedigingsblapse teen die Stormers. Die foute het sy span nie regtig punte gekos nie, maar teen die sterke Robbie Fruean sal Sadie sy keer moet ken.
Met Deon Stegmann wat nogsteeds buite aksie is, sal CJ Stander weer die nommer 6 trui dra. Stander sal by die afbreekpunte bygestaan word deur Chiliboy Ralepelle, wat teen die Stormers puik was op die grond. Hulle kom te staan teen Matt Todd, wat menigte spanne se harte al gebreek het my sy balsteel-vermoëns.
Die Bulls is die gunstelinge vir die wedstryd, bloot as gevolg van die tuisveldvoordeel. Terwyl die Saders nog nie op alle silinders vuur nie, is hulle ‘n kwaliteit span, en dit kan net ‘n kwessie van tyd wees voor alles in plek val. Die Bulls moet seker maak hulle ontwrig die Crusaders se voorspelers, dit sal ‘n groot rol daarin speel om die Crusaders se skakelpaar onder druk te plaas. Dit sal verseker dat die Crusaders se gevaarlike buite-agterspelers nie spasie het nie.
Morne Steyn sal egter sy kouse moet optrek, en sal wil wys dat hy nog net so dodelik korrel as altyd. Hy sal ook beter moet inskop, en afskop, en sy lynskoppe sal van so aard moet wees, dat Dagg en sy vleuels nie vinnige lynstane kan neem nie.
Hierdie kan ‘n klipharde wedstryd wees, met die Saders se skakelpaar wat ‘n wedstryd baie goed kan beheer, as hulle die kans gegee word. Ek voorspel egter dat die gekweste Bulls met 4 punte sal seëvier op hul tuisveld. Wat dink jy gaan die uitslag wees?
Die spanne lyk so:
Bulls – 15 Zane Kirchner, 14 Akona Ndungane, 13 Johann Sadie, 12 Wynand Olivier, 11 Bjorn Basson, 10 Morne Steyn, 9 Francois Hougaard, 8 Pierre Spies (c), 7 Jacques Potgieter, 6 CJ Stander, 5 Juandre Kruger, 4 Flip van der Merwe, 3 Werner Kruger, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Dean Greyling.
Subs: 16 Bongi Mbonambi, 17 Frik Kirsten, 18 Wilhelm Steenkamp, 19 Arno Botha, 20 Jano Vermaak, 21 Louis Fouche, 22 JJ Engelbrecht.
Crusaders - 15 Israel Dagg, 14 Sean Maitland, 13 Robbie Fruean, 12 Ryan Crotty, 11 Zac Guildford, 10 Dan Carter, 9 Andy Ellis, 8 Kieran Read (c), 7 Matt Todd, 6 George Whitelock, 5 Sam Whitelock, 4 Luke Romano, 3 Owen Franks, 2 Corey Flynn, 1 Wyatt Crockett.
Subs: 16 Quentin MacDonald, 17 Ben Franks, 18 Tom Donnelly, 19 Luke Whitelock, 20 Willi Heinz, 21 Tom Taylor, 22 Tom Marshall.
Vorige uitslae
| 2011 | Crusaders | 27 | - | 0 | Bulls |
| 2010 | Bulls | 39 | - | 24 | Crusaders |
| 2010 | Bulls | 40 | - | 35 | Crusaders |
| 2009 | Bulls | 36 | - | 23 | Crusaders |
| 2009 | Crusaders | 16 | - | 13 | Bulls |
| 2008 | Bulls | 19 | - | 54 | Crusaders |
| 2007 | Bulls | 27 | - | 12 | Crusaders |
| 2007 | Crusaders | 32 | - | 10 | Bulls |
| 2006 | Crusaders | 35 | - | 15 | Bulls |
| 2006 | Bulls | 17 | - | 35 | Crusaders |
| 2005 | Bulls | 35 | - | 20 | Crusaders |
| 2004 | Crusaders | 40 | - | 21 | Bulls |
| 2003 | Bulls | 32 | - | 31 | Crusaders |
| 2002 | Canterbury | 49 | - | 15 | Bulls |
| 2001 | Northern Bulls | 29 | - | 42 | Canterbury Crusaders |
| 2000 | Canterbury | 75 | - | 27 | Northern Bulls |
| 1999 | Northern Bulls | 28 | - | 30 | Crusaders |
| 1998 | Canterbury | 31 | - | 20 | Northern Bulls |
| 1997 | Blue Bulls | 23 | - | 22 | Canterbury |
| 1996 | Canterbury | 18 | - | 34 | Northern Transvaal |



Die crusaders is ongetwyfeld die grootste in super rugby. Die bulls vaar redelik goed teen hulle . Hierdie wedstryde word net al hoe moeiliker om n wenner te bepaal . Ek glo Morne sal verlede sat agter hom sit en hierdie een in die sak sit , n gekweste bul is n moeilike bul ! of hoe se julle ?
Geluk Bulle, my senuwees is op. Ek moes ongelukkig na Toks vd Linde luister. Iemand moet hom vertel hy is nie n afrigter nie. Die eerste helfte vertel hy net wat die Bulle verkeerd doen en tweede helfte is hy stil.