bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Nommer een posisie op die spel in Kaapstad

Deur Laagvat March - 29 - 2012 - Thursday

Die Vodacom Bulls en die DHL Stormers pak mekaar Saterdagaand in ‘n wedstryd op Nuweland met die nommer 1 posisie op die punte-leër wat op die spel is. Met die nuwe konferensie stelsel wat die punte-leër snaaks laat lees, kan ‘n Kaapse sege die Bulls hul 4e plek laat omruil met die Stormers.

Die Kapenaars sal, soos in die onlangse verlede, meeste van hul energie gebruik om ons baldraers agter die voordeellyn te probeer stuit. Dit is ‘n taktiek wat die Sharks veral, maar ook die Stormers, in die laaste twee jaar met welslae gebruik het. Kry hulle dit reg om Dean Greyling, Flip van der Merwe en Jacques Potgieter agter die voordeellyn te stuit, sal die besoekers sukkel om momentum op te bou. Word die stormramme nie gestuit nie, kan dit ‘n lang dag vir die tuisspan word.

Uit die Wes-Kaap word groot lawaai gemaak oor die Ligbloues wat heelmiddag net gaan skop en jaag, en daar word wyd en syd vertel dat Alistair Coetzee en sy span presies weet wat die Bulls gaan maak. Wel, ek weet nie of hulle hulself net onnosel hou, en of hulle dalk regtig so deur die weer is nie. Die Bulls het verlede naweek in die eerste helfte die Reds van hulle voete afgehardloop, voor hulle in die tweede helfte hul spel afgewissel het, en die gebruiklike hangskoppe begin jaag het.

Coetzee het baie ondersteuners verras deur Rynhard Elstadt te kies op flank, met Duane Vermeulen wat weer sal uitdraf op agsteman. Die skuif om Nick Koster uit te laat, kan gesien word as ‘n kompliment vir die Bulls se baldraers en lynstaanspringers. Weereens is dit die opposisie wat skuiwe maak om ons te neutraliseer, terwyl ons net aanhou doen wat ons doen.

Terwyl die stryd tussen die twee pakke voorspelers ‘n spektakel sal opdis, gaan veral die lynstane ‘n hele paar ondersteuners se monde laat water. Andries Bekker sal saam met Elstadt en die jong Eben Etzebeth probeer om Juandre Kruger, van der Merwe en Pierre Spies se balle in die lynstaan te steel. By die skrums sal die Bulls hoop dat die harde werk wat gedurende die week ingesit is, vrugte sal afwerp. Verlede week is Dean Greyling nie een keer gestraf nie, na hy tot dusver die seisoen gesukkel het met sy bind. Dit was egter die keer sy stutmaat, Werner Kruger se beurt om gepenaliseer te word.

Die twee pakke voorspelers sal egter mekaar ook wil wys wie nou regtig die beste rolmaal in die Super Rugby kompetisie het. Beide spanne het al verskeie drieë so aangeteken, en dit gaan dalk meer gaan oor watter span die beste daarteen verdedig, eerder as die rolmaal die beste uitvoer.

In die middelveld sal nog ‘n fel stryd afspeel tussen die twee senterpare. Jean de Villiers en Juan de Jongh meet kragte met Wynand Olivier en Johann Sadie. Olivier het telke male al sy WP-teenstanders ore aangesit, en geoordeel op sy vorm tot dusver, sal de Villiers en de Jongh hulle keer moet ken.

Dan is daar ook ‘n goeie kans dat die humeure kan opvlam, met spelers soos Bryan Habana, Gerhard van den Heever en Burton Francis wat voorheen vir die besoekers gespeel het, terwyl die Bulls onlangs vir Johann Sadie en JJ Engelbrecht afgerokkel het by die Stormers.

Ek sien dat die algemene gevoel is dat die Stormers hierdie wedstryd in die sakkie het. Dit is verseker nie ‘n uitgemaakte saak nie, en ek het so gevoel die Bulls gaan soos verlede seisoen maak, en die Stormers op Nuweland klop. As ek my kop op ‘n blok moet sit, sal ek sê die Bulls sal die oorhand hê met so 3 punte.

Die spanne lyk so:

Bulls – 15 Zane Kirchner, 14 Akona Ndungane, 13 Johann Sadie, 12 Wynand Olivier, 11 Bjorn Basson, 10 Morné Steyn, 9 Francois Hougaard, 8 Pierre Spies (c), 7 Jacques Potgieter, 6 CJ Stander, 5 Juandré Kruger, 4 Flip van der Merwe, 3 Werner Kruger, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Dean Greyling.

Reserwes: 16 Bongi Mbonambi, 17 Frik Kirsten, 18 Wilhelm Steenkamp, 19 Arno Botha, 20 Jano Vermaak, 21 Louis Fouché, 22 JJ Engelbrecht.

Stormers - 15 Joe Pietersen, 14 Gio Aplon, 13 Juan de Jongh, 12 Jean de Villiers (c), 11 Bryan Habana, 10 Peter Grant, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Duane Vermeulen, 7 Rynhardt Elstadt, 6 Siya Kolisi, 5 Andries Bekker, 4 Eben Etzebeth, 3 Brok Harris, 2 Tiaan Liebenberg, 1 Steven Kitshoff.

Reserwes: 16 Deon Fourie, 17 Frans Malherbe, 18 De Kock Steenkamp, 19 Nick Koster, 20 Louis Schreuder, 21 Burton Francis, 22 Gerhard van den Heever.

5 Responses to “Nommer een posisie op die spel in Kaapstad”

  1. avatar Vastrap van der Merwe says:

    Ek dink dit gaan kliphard wees en nie ‘n baie mooi wedstryd nie.

    Die Bulle is nog geneig om aan die begin van wedstryde baie geroes te lyk. Die week moet hulle ge-olie daar aankom. Ek dink nie een vand ie twee spanne kan bekostig om te veel foute te maak nie.

  2. avatar Baya BuL says:

    Man teen man is ons in vir heleva goeie game.
    Na my mening is die beste Stormer Span in 20 jaar.
    Beslis ook die eerste 8tal wat gaan saampraat.
    Al plus punte wat ek sien is ons 8,9,10 teenoor hulle kombinasie.
    Plus moontlike dom fout of twee wat dalk deur Habana gemaak kan word.
    hou vas jou Hoed ……. hier kom sports

  3. avatar Yorkie says:

    Steyn het ons op die agtervoet begin, en da is geel FdvM weer, dom fout, miskein moes hy af bly want dit was 10 punte in 10 min. Selfs JdV het erken as dit op Loftus was het hulle verloor. Ek dink ons was puik, miskein te veel foute en die stey faktor was afwesig, welgedaan P- Bulls (twee drie teen een, dit klink soos n stormer.)

  4. avatar superBul says:

    Hallo almal ek was baie lank laas hier maar gaan n punt maak om bietjie meer te kom hallo se.

    Ai dit was swaar om te verloor. Daai pienk trui spook al heel week by my. So gehoop ons druk hom iewers in waar die son nooit kom nie. Sou darem die Kaapse bekke stil gemaak het.

    Morne lyk regtig moeg die jaar, Frans speel hom nou behoorlik in die grond in. Twee van ons verloor games was makliker gemaak vir die oponente met die dat Morne se spelpyl nie skerp was nie. Ek praat nie net van die skoppe pale toe nie. Kyk hoe power was sy lyn skoppe, hy kon twee keer nie die kantlyn haal nie en nog twee keer ook net net.

    Spies en Ralepele speel n barshou die jaar.

    Wynand het bietjie sy pienk image in daai onsportiewe skare se … opgedruk, dit geniet , maar dit het die Stormers weer laat wakker skrik.

    Laastens die REF, waarom moet die spel alewig met 50/50 beslisings opgeskeep sit. Daardie skrum blaas en lang engage goed ontsier rugby en verkrag die fondament van Rugby.

  5. avatar Baya BuL says:

    die was lekker riller game … en na my mening was great. Stormers beslis nie meer n easy pushover span nie. Wil ook net byvoeg daar is nie veel nuwe name by die stormers nie … so ons ken hulle almal. Beslis ook beter span sonder die burger faktor … lol … Maar mense as die jong bulletjies begin jol … hulle het wragtig daai stormers van agter ingehaal , al het ou joubertjie so hier en daar tipiese anti bulls fluitjie geblaas. Die span is nog lekker jonk en opwindend .. maak nog klein foutjies en ja hulle gaan beslis bekers nog wen. Daar is nie veel spanne beter as die stormers nie , highlanders lyk goed , chiefs en crusaders gaan ook lekker harde games wees met tahs en sharkies wat as weg games moet kom. Die gaan beslis harde super reeks wees en die spannetjie kan nog verbeter.
    Moenie te veel oor morne stress nie … as die span kombineer sal hy vanself reg kom

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?