Hulle moet nou daardie momentum behou wat met die goeie sege afgelope naweek opgebou is, ongeag die moeilike taak om die Luiperds op hul tuisveld in Portchefstroom te probeer tem, het die Blou Bulls-afrigter, Pine Pienaar, Woensdag gesê.
Ná hulle puik sege oor die Goue Leeus is die span gretig om op die wenpad te bly, het Pienaar laat blyk.
“Ons moet aanhou verbeter. Om met ‘n nederlaag en toe ‘n gelykop-uitslag te begin was nie goed genoeg nie en daarom was die sege teen die Leeus ‘n bevestiging van waartoe ons in staat is. Die Luiperds weg is ‘n taaie, maar ons het nie ‘n keuse anders as om te wen as ons steeds op die punteleer wil vorder nie.”
Pienaar het een gedwonge skuif aan sy beginspan gemaak nadat Bongi Mbonambi in die Vodacom Bulls se groep opgeneem is.
Robbie Coetzee vervang hom, met Jacques Momberg wat Coetzee se plek op die bank inneem.
“Beide is ervare spelers wat hulle kant sal bring,” het Pienaar gesê.
Die span wat Saterdag teen die Luiperds in Potchefstroom speel, is:
Ulrich Beyers, Sampie Mastriet, Jan Serfontein, Francois Venter, Jurgen Visser, Tony Jantjies, Ruan Snyman, Jono Ross, Jean Cook, Warwick Tecklenburg, Cornell Hess, Gerrit-Jan van Velze (k), Rayno Gerber, Robbie Coetzee, Vincent Koch.
Plaasvervangers: Jacques Momberg, Basil Short, Franco Mostert, Daniel Adongo, Rudi van Rooyen, Wesley Dunlop, Clayton Blommetjies.


