bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Ludeke behou wenspan

Deur Laagvat March - 28 - 2012 - Wednesday

Die span van die Vodacom Bulls wat Saterdag teen die Stormers op Nuweland in Kaapstad speel, toon geen veranderinge aan die een wat verlede Saterdag met die Reds afgereken het nie.

Afrigter Frans Ludeke kon weer dieselfde beginspan kies, die eerste keer vanjaar dat beserings nie sy keuses verander nie.

Hy moes nietemin ‘n verandering aan die plaasvervangerbank maak, waar Willie Wepener weens ‘n ontsteekte senuwee in sy gesig moes onttrek.

Bongi Mbonambi, wat tot dusver in die Blou Bulle se Vodacombekerspan diens gedoen het, is in sy plek gekies. Dit sal Mbonambi se debuut in die Vodacom Super Rugby-reeks wees as hy speelkans kry.

Ludeke het sy tevredenheid met die span se voorbereiding en vordering in die reeks uitgespreek.

“Ons het verlede week goed gedoen teen die verdedigende kampioene, maar dié week wag die enigste onoorwonne span in die kompetisie. Die Stormers is ‘n gevestigde span vol ervaring en om hulle op hul tuisveld te gaan klop, sal ‘n spesiale poging verg.”

Volgens die Bulls-kaptein, Pierre Spies, bring die Noord/Suid-wedstryde altyd die beste uit spelers uit.

“Daar is ook baie emosies en dit is iets wat ons moet beheer, want dit gaan belangrik wees om as ‘n span te speel, klinies te wees en nie toelaat dat emosies jou opsies belemmer nie. Ons het nog ‘n lang pad oor in die kompetisie, maar hierdie is beslis een van ons groot uitdagings.”

Die span (met getal Super-wedstryde) is: Zane Kirchner (58), Akona Ndungane (71), Johann Sadie (9), Wynand Olivier (90), Bjorn Basson (29), Morné Steyn (93), Francois Hougaard (32), Pierre Spies (76, k), Jacques Potgieter (4), CJ Stander (4), Juandré Kruger (4), Flip van der Merwe (38), Werner Kruger (62), Chiliboy Ralepelle (39), Dean Greyling (19). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi (0)*, Frik Kirsten (6), Wilhelm Steenkamp (40), Arno Botha (1), Jano Vermaak (76), Louis Fouché (4), JJ Engelbrecht (4).

* Debuut

One Response to “Ludeke behou wenspan”

  1. avatar Yorkie says:

    Ons Lynstane moet in alle opsigte perfek wees. met drie slotte is dit een faset wat die windjies teiken, omdat hulle ons gameplan speel hoop hulle dit werk ook vir hulle. Ek dink/hoop die verskil is dat ons aan beweeg het met n verbeterde styl rugby, en sover vir ons werk. Weereens ons moet ons gameplan konsentreer en net alles 100% doen.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?