bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Pakslae uitgedeel in Pretoria

Deur Laagvat March - 26 - 2012 - Monday

Die Vodacom Bulls het Saterdagaand korte mette gemaak van die verdedigende Super Rugby kampioene. Die Reds het, alweer, ‘n loesing op die lyf geloop teen Bul se kind, en met die telling op 61-8 is die manne uit Australië se pyn beëindig deur die eindfluitjie.

Die tuisspan het 8 drieë teenoor 1 aangeteken, en alhoewel die besoekers ‘n kwaai uitgedunde span was, was dit ‘n baie oortuigende oorwinning. Die Reds het gedurende die wedstryd nog ‘n paar beserings opgetel, en die wedstryd afgesluit met Will Genia op losskakel en Radike Samo op binnesenter. Teen daardie tyd was die koeël egter lank reeds deur die kerk.

Die fondasie vir die oorwinning is oudergewoonte voorlangs gelê, met kaptein Pierre Spies wat besig is om indrukwekkende vorm te vang. Spies het wel nog ‘n fout of drie begaan, maar met sy kraglopies het hy telke male oor die voordeellyn gekom om sy span momentum te gee. Ook lanklaas het die sterk agsteman so baie kop ingesteek by losskrums, en sy bydrae hier moet nie onderskat word nie.

Dan was Dean Greyling ook sterk met die bal in hand, Chiliboy Ralepelle ‘n ratel in die vaste los, en CJ Stander het hom uitstekend van sy taak gekwyt in ‘n relatief onbekende rol vir hom. Jacques Potgieter was kookwater, en het ‘n welverdiende vyfpunter aangeteken na ‘n naellopie van by die 50m.

Agterlangs het Francois Hougaard al beter geraak, Morne Steyn se dodelike skopskoen is terug, en Wynand Olivier het weer sy klas onderstreep, die keer op binnesenter. Dan het Zane Kirchner ook sy onlangse goeie vorm voortgesit.

Daar is egter ‘n paar areas waaraan gewerk kan word. In die eerste helfte het die Bulls ‘n paar kanse deur hul vingers laat glip, en ‘n bietjie geduld in hul opponente se kwartgebied sal hul goed te staan kom vorentoe. Dan bly die skrums ‘n rede tot kommer. Waar Dean Greyling se bindprobleme blyk iets van die verlede te wees, is Werner Kruger die week gestraf. In my onkunde, was ten minste een van daardie strafskoppe ‘n 50/50 beslissing gewees, met die Reds wat gelyk het of hul kwaai inskrum op Kruger.

Die plaasvervangers het die keer meer as hul kant gebring, en het byna man-vir-man net so goed, indien nie beter nie, gespeel as die spelers wat hul vervang het. Willie Wepener was baie indrukwekkend, en het gewys hy is lus vir rugby. Wepener het sterk geduik, en het ‘n bal of twee gegaps ook. Dan het Arno Botha in ‘n kort tydjie gewys hy het nie rede om terug te staan op die vlak nie, ongeag sy ouderdom.

Jano Vermaak het beter gelyk as teen die Blues, en Louis Fouche het in ‘n wedstryd wat alreeds in die sakkie was toe hy opkom, tog gewys hy kan ‘n opwindende adjudant wees vir Steyn. En het die man nie ‘n kanonpoot nie! Sy stelskopwerk is egter nog nie akkuraat genoeg nie.

JJ Engelbrecht het weereens gewys dat hy ‘n puik speler is, en hy klop week na week aan die deur om die beginspan te haal. Terwyl Akona Ndungane nie veel verkeerd gedoen het nie, moet JJ se konstante goeie spel binnekort vir hom ‘n posisie in die beginspan losspeel.

Ek dink ons as ondersteuners het genoeg gesien om versigting optimisties te wees vir die seisoen vorentoe, en ook vir die wedstryd teen die Stormers komende Saterdag.

Scorers:

Bulls 61 (16): Drie: Zane Kirchner, Wynand Olivier, Flip van der Merwe, Jacques Potgieter, Jano Vermaak, CJ Stander, JJ Engelbrecht, Bjorn Basson. Strafskoppe: Morne Steyn (3). Doelskoppe: Steyn (5), Louis Fouche

Reds 8 (3): Drie: Dom Shipperley. Strafskop: Jono Lance.

8 Responses to “Pakslae uitgedeel in Pretoria”

  1. avatar BlouArie says:

    Ek het nie hierdie telling verwag nie – dit was great!Ons moet net nie momentum verloor teen die WP nie, hulle verdediging is tops en ons gaan nie maklik deurkom nie.

  2. avatar Vastrap van der Merwe says:

    Ons moet die momentum hou. Maar dit was darem maar baie lekker gewees. Hopelik kan ons nou konstant so speel.

    Ons het in die eerste helfte by tye ook maar nie goed gelyk nie, dis asof die olie nog nie deurgewerk het nie. Maar toe hulle eers begin, toe gaan dit baie beter.

    Die Stormers gaan taai wees, hopelik kan ons daai Blues wedstryd terugtrek.

  3. avatar Yorkie says:

    Man dis lekker om n Bul in die Kaap te wees, selfs op die radio is die stormers skrikkerig vir die bulle. Ek sien ons gaan in pienk speel en nog meer rede hoekom ons moet wen. Laagvat het dit reg opgesom met die manne wat op vrom was. Ek dink net Hougaard was bietjie verroes, Sadie het versigtig gelyk en dis dalk die besering. JJ moet in die begin span plek kry want Akona se opsies drie verkeerd en in die verdediger vas gehardloop.
    Net voor Chilli af is het ek gedink die man of the match is tussen Chilli en Spies.
    Ek kan nie eers onthou of ons n up en under geskop het nie.
    Ek sien elke week dat die Stormers meer en meer hulle spel op die Bokke en Bulls baseer, speel in die ander helfte, slaan voor en dan laat in die game agter. Saterdag kan tight game wees maar dalk ook baie vervelig.

    • avatar Laagvat says:

      yorkie, ek wou jou nog vra, jy is kaapse bul op die bulle se website?

      die stormers is al die afgelope twee, dalk selfs drie jaar besig om hul rugby al hoe meer konserwatief (a la bulle en bokke) te speel. daar was bitter lanklaas sprake van ‘n stormers span wat die drieë inryg.

      peter grant versprei die bal blykbaar vreeslik goed, maar hoekom druk jean de villiers, juan de jongh, gio aplon, bryan habana, joe pietersen en gerhard van den heever nie drieë nie? hulle het nog net 7 drieë die seisoen gedruk, teenoor die bulls se 17.

      hulle speel verseker lae risiko rugby. en dan word die bulls uitgekryt as vervelig.

  4. avatar Yorkie says:

    While the team kit sponsors Puma are desperately trying to market it as the “purple jersey”, the overwhelming pink aspect overshadows the “Jacaranda effect” that the marketing boys have come up with and is sure to stir up some debate this week.
    Ek die gecopy van n supersport berig. Kan nie glo Puma probeer nog die pink verdedig nie met pers nie, is die manne kleur blind, moet manne wees want vrouens is nie kleurblind nie.

    • avatar Laagvat says:

      daai puma mense moes lankal opgehou het met allerhande verduidelikings.

      met so ‘n trui sal die ondersteuners altyd verdeeld wees. sommige is mal daaroor, en ander haat dit weer. dis nie ‘n middle-of-the-road tipe truie daai nie.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?