bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Bulls moet uitgedunde Reds klop

Deur Laagvat March - 22 - 2012 - Thursday

Mens sien week na week dat ‘n sekere wedstryd as ‘n moet-wen-wedstryd beskryf word, en ek wonder gereeld of elke wedstryd nie tog maar ‘n moet-wen-wedstryd is nie?

Hierdie Saterdag kom die Vodacom Bulls teen die Reds te staan op Loftus Versfeld, met die Stormers op Nuweland en die Crusaders op Loftus wat lê en wag in die komende twee weke. ‘n Sege hierdie naweek kan die Ligbloues se selfvertroue ‘n broodnodige hupstoot gee voor hul moeilike wedstryde wat voorlê, terwyl ‘n nederlaag drie, of selfs 4 opeenvolgende nederlae tot gevolg kan hê.

Die besoekers is egter ontwrig, en moes noodgedwonge hul 5de keuse losskakel, in die vorm van Dallan Murphy kies, na ontydige beserings meeste hul opsies in die posisie uitgewis het. Die jonge Murphy het  bykans geen ervaring op die vlak nie, en gaan nie ‘n maklike dag op kantoor hê nie.

Sy direkte teenstander, Morne Steyn het in sy span se laaste wedstryd teleurgestel met veral die skopstewel, en hy sal die verlore aansien gou wil terugkry. Steyn sou die laaste twee weke honderde op honderde stelskoppe deur die mikke gejaag het, en sal hoop hy voldoen weer aan sy eie hoë standaarde.

Dan maak Francois Hougaard en Johann Sadie ook hul terugkeer na die beginspan, en veral Hougaard se onvoorspelbaarheid en rateltaai verdediging sal groot impak maak agterlangs.

Voorlangs sal die tuisspan se pak oudergewoonte die lynstane probeer oorheers, en rolmale van stapel af stuur, terwyl ondersteuners hoop Dean Greyling bind probleme by die skrums is opgelos.

Terwyl die Reds ‘n klomp veranderinge moes aanbring, is hul afrigter, Ewen Mckenzie ‘n uitgeslape vent. Die Pretorianers kan maar weet daar sal ‘n hele paar spesiale planne net vir hul voorberei word.

Een ding wat nie ongemerk sou gaan in Loftus se gange nie, is dat Mckenzie sy reserwebank met 5 voorspelers gelaai het. Die gereelde agsteman Radike Samo,  is een van twee losvoorspelers wat die afskop van die kantlyn af sal dophou. Die ander, Liam Gill is ‘n baie belowende oopkantflank, en word hoog aangeslaan in sy tuisland. Hy het al sy land verteenwoordig in Sewes-rugby, sowel as op onder 20 vlak en het verlede jaar in 9 wedstryde gespeel. Hy sal hoop dat hy en sy beginspan-kollega, Beau Robinson die Bulls sal irriteer by die afbreekpunte.

Die feit dat Mckenzie beide ‘n spesialisbaljagter in die beginspan, en op die reserwebank het, behoort ondersteuners effe gespanne te maak. Die puik jong CJ Stander is weer getaak daarmee om kop eerste by losskrums in te dons, met Chiliboy Ralepelle wat nooit skroom om self so te maak nie. Op die bank het die Bulls net vir Arno Botha, wat nes Stander ‘n meer tipiese 7 flank-, of agsteman-rol vervul.

Indien die Bulls se pak kan oorheers, mag die effek van die Reds se ekstra losvoorspelers nie gevoel word nie. Maar word daar op gelyke voet meegeding tussen die twee pakke voorspelers, kan die Bulls weer sukkel om momentum te hou op die aanval. Dit het die Ligbloues duur te staan gekom twee weke gelede teen die Blues, en ek hoop die wedstryd ontvou nie weer so nie.

Ek dink egter die tuisspan se lynstane en rolmale sal die verdedigende kampioene se gal werk, terwyl Hougaard hulle aan die raai sal hou agter ‘n pak wat vorentoe gaan. Ek reken die Bulls kan hierdie ene gemaklik wen met so 12 punte. Wat dink jy gaan die telling wees?

Die spanne lyk so:

Bulls – 15 Zane Kirchner, 14 Akona Ndungane, 13 Johann Sadie, 12 Wynand Olivier, 11 Bjorn Basson, 10 Morné Steyn, 9 Francois Hougaard, 8 Pierre Spies (c), 7 Jacques Potgieter, 6 CJ Stander, 5 Juandré Kruger, 4 Flip van der Merwe, 3 Werner Kruger, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Dean Greyling.

Reserwes: 16 Willie Wepener, 17 Frik Kirsten, 18 Wilhelm Steenkamp, 19 Arno Botha, 20 Jano Vermaak, 21 Louis Fouché, 22 JJ Engelbrecht.

Reds – 15 Rod Davies, 14 Dom Shipperley, 13 Jono Lance, 12 Ben Tapuai, 11 Luke Morahan, 10 Dallan Murphy, 9 Will Genia, 8 Jake Schatz, 7 Beau Robinson, 6 Scott Higginbotham, 5 James Horwill (c), 4 Rob Simmons, 3 Greg Holmes, 2 Saia Faingaa, 1 Ben Daley.

Reserwes: 16 James Hanson, 17 James Slipper, 18 Radike Samo, 19 Van Humphries, 20 Liam Gill, 21 Nick Frisby, 22 Nathan Eyres-Brown.

4 Responses to “Bulls moet uitgedunde Reds klop”

  1. avatar Vastrap van der Merwe says:

    Kyk ek stem, ons moet die een wen, net om weer selfvertroue te kry en wys die verloor teen die Blues was ‘n glips.

    Die reds gaan taai wees, en ons seker weer van ons voete af probeer hardloop wyd. Dit werk nogal gewoonlik. Ons moet net vroeg beheer wen, en akkuraat skop, dat daai agtersted driehoek van hulle ons nie stukkend hardloop nie.

  2. avatar Yorkie says:

    Ek is senuweeagtig vol vertroue ons gaan die een wen. Die blues het ook met n onbekende losskakel n man of the match vertoning gegee. Hopenlik het ons n les geleer. Ons het self vir Olivier terug wat goed verdedig en ervaring aan die backline gee. Sadie moet bewys hy is die beste. Hougie kom teen die best skrumskakel te staan en sal moet wys hy verdien die springbok trui. Alles le by die voorspelers en ons moet net voor oorheers. Die ruskans tel ook in ons guns.

    Bulls 28 Reds 23

  3. avatar makrovleuel says:

    Ek dink ons kan die een deurtrek. Die Reds was nie oortuigend teen die haaie nie, maar osn sal moet waak teen losballe of ongedwonge foute wat hul kan uitbuit en ons laat betaal.

    Ek reken Wynand se beste posisie is buitesenter, so ek is jammer dat hy weer moes skuif na binnesenter toe. Ek hoop net hy gee die bal uit

  4. avatar Yorkie says:

    Uitklophou, tuusen die oe!!! fantasties. Ek het net voor Chilli af is gese die M of the matach is tussen Spies en Chili.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?