bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Blou Maandag by Loftus na Blues nederlaag

Deur Laagvat March - 12 - 2012 - Monday
Die Vodacom Bulls sal vandag wonder hoe hul dit reggekry het om ‘n wedstryd te verloor waarin hul vir groot gedeeltes oorheers het. Die Bulls het Saterdagaand met 29-23 teen die Blues verloor op Loftus Versfeld.

Van drama was daar meer as genoeg, met Ali Williams se geelkaart, Bjorn Basson se verdoelde drie in die doodsnikke om die verloor-bonuspunt te behaal, Rene Ranger se onverskillige poging tot ‘n duikslag toe Basson oorduik, en dan les bes Johannes Gideon Nel se onnosele poging om Kevin Mealamu te vertel wat hy van hom dink.
Vroeg reeds het die Blues gewys dat hulle nie ‘n halwe kans gegun moet word nie, toe Gareth Anscombe ‘n aanslaan deur Francois Venter uit die lug te gryp, en deur te naal vir ‘n drie wat hy self verdoel het. Vinnig was die telling 7-0 in die besoekers se guns. Kort daarna is Werner Kruger gestraf by ‘n skrum, en die 20-jarige Anscombe het sy span se voorsprong opgestoot na 10-0.
Die Ligbloues het egter kalm gebly en het seker gemaak hulle beskerm hul losbal goed, en het lynstaan na lynstaan afgedwing in die Blues se kwartgebied. Herhaalde oortredings by die rolmale het gelei tot ‘n geelkaart vir Ali Williams. Met die manne van Auckland beperk tot net 14 spelers was daar nog ‘n lynstaan opgesit in hul kwartgebied, en so kon Bulls-kaptein Pierre Spies sy span se eerste drie aanteken. Morne Steyn het sy eerste van 4 verbroude pogings wyd van die merk gestuur. Steyn het ‘n ruk daarna die telling 10-8 gemaak, net om te sien hoe sy direkte opponent die voorsprong weer herstel op 13-8.
Kort voor halftyd het die Blues deur Anscombe gedruk, en hy het weer nie fout gemaak met die doelskop nie. Toe halftyd aanbreek was die tellign 20-8 in die besoekers se guns, en die Bulls kon maar net wonder hoe hul kon agter wees, na die Blues 10 keer gestraf is in die eerste helfte, waarvan 8 strafskoppe by die afbreekpunte was. Persoonlik dink ek die Blues het telkens professionele oortredings begaan by die afbreekpunte, om ons momentum te stuit. Ek reken Steve Walsh kon gerus nog ‘n geelkaart uit sy sak gehaal het, met Daniel Braid die voorste kandidaat na sy 4 strafskoppe.
Steyn het in die 53ste minuut met ‘n rare suksesvolle stelskop geslaag, maar na die jonge Anscombe nog twee van sy eie strafskoppe deur die pale gejaag het was die telling 26-11. Moeilikheid vir die tuisspan.
Die Bulls wou egter nie gaan lê nie, en het twee drieë gedruk in die laaste kwartier, met die Blues wat slegs met ‘n enkele strafskop kon antwoord. Na Bjorn Basson oorgeduik het in die laaste oomblikke, met Rene Ranger wat laag ingevlieg het sonder arms, was daar groot drama met skeidsregter Walsh wat aan Spies vertel het sy span verdien ‘n strafskop na Ranger se geelkaart, maar dat die doelskop die beweging sou beëindig. Dus was die strafskop toe nooit toegeken nie. Met die Bulls wat op daardie stadium momentum gehad het, en die besoekers beperk tot 14 man, kon enigiets gebeur het. Maar dit is alles blote spekulasie.
Die Bulls het ‘n wedstryd verloor waarin hul die eerste helfte oorheers het met 59% balbesit en 69% gebiedsvoordeel. Die tuisspan het byna 6 minute spandeer in hul opponente se kwartgebied, en kon slegs 8 punte aanteken, terwyl die Blues ‘n beter treftempo gehad het met 20 punte na slegs 27 sekondes in die Bulls se 22 meter area (let wel, hierdie tye word gemeet as die bal in spel is).
Tydens die tweede helfte was die Blues span 61% van die tyd wat bal in spel was, in die Bulls se halfgebied, terwyl die Ligbloues nogsteeds die meerderheid van besit gehad het met 57%.
Net ‘n laaste woordjie oor Morne Steyn. Die gewoonlik betroubare stelskopper kon op die dag slegs 3 uit 7 skoppe oorjaag. Dit is volgens sy eie hoë standaarde, ‘n patetiese vertoning. Maar ons kan hom nie kwalik neem vir die verloor nie, ons het genoeg bal en kanse gehad om die wedstryd te beklink. Dit is hartseer dat Morne sy span al deur soveel swak vertonings tot ‘n oorwinning kon skop, maar die keer toe sy span hom moes dra, hulle dit nie kon doen nie.
Na ons loslootjie die komende naweek, sal ons hopelik weer naby aan volsterkte wees met die verwagte terugkeer van Johann Sadie, Wynand Olivier en Arno Botha. Dewald Potgieter sal ook binnekort begin met sy rehabilitasie, na sy gips verlede week verwyder is.

10 Responses to “Blou Maandag by Loftus na Blues nederlaag”

  1. avatar Bloem Bul says:

    Dit was nie lekker om te sien ons sukkel so om punte aan te teken nie. Daar is wel manne wat goed gelyk het, die twee Kruger manne was weer goed en CJ het ook goed gedoen. Dit was nie Morne se dag nie, jammer dat ons nie meer soos in die tyd toe Derric en Morne saam gespeel het ook nou n ervare loskakel op die bank het nie. In daardie dae as die een af dag beleef het kon jy die ander een opstuur sonder enige probleme. Ek dink Frans het dit sterk oorweeg om Morne te vervang, maar omdat Lois nie ervare is nie daarteen besluit.

    • avatar Laagvat says:

      bloembul, ek dink ook nie louis is al reg om in so wedstryd die kastaiings uit die vuur te kom krap nie.

      en help nie mens bring fouche op om die stelskoppe by morne oor te vat nie. louis moet nog hard werk aan sy stelskoppe.

      • avatar Bloem Bul says:

        Ek sou hom ook nie opbring nie, dit is net jammer dat hy nie ook op so vlak is dat n mens hom nie kan opbring die dag as Morne nie op sy beste is nie. Dink ons diepte na Morne kort aandag, dis dalk die rede dat hulle vir Cronje gekoop het, maar nou is hy ook beseer.

  2. avatar Vastrap van der Merwe says:

    Dit was glad nie lekker nie. Morne het darem daai skepskop oorgesit. Ons sal maar nou net lekker hard moet werk en dan kom wen na die loslooitjie.

  3. avatar Yorkie says:

    Die lostrio het ook baie glad geloop nie en dis te verstane op so laat staduim. PS het n goeie game gehad maar ons het Stegman gemis om die bal net daai sekonde stadiger te maak. Daar eerste 7 minute was ons doodsteek en ons kon net nie daar verby kom nie, dit het amper gelyk of Morne moed verloor het instede van om PS te help en te praat. In die verlede het jy victor en fourie gehad wat aanhou praat het. Die ref was nou nie eintlik aan ons kant nie waar sien jy gee jy n geel kaart dan praat jy met hou hand oppad sak toe en doen niks. Sy beslissing op die einde was ook verkeerd. Die strafskop was toegeken terwyl daar nog sppeltyd oor was en die reels se jy kan nie die wedstryd beeindig met n strafskop nie Ons moes na die drie ook n strafskop gekry het, wat as die doelskop mis was, reels is reels en kan nie selektief toegepas word nie. Dit lyk hoe meer daar oor swak beslissings gepraat word hoe meer swak beslissing is daar.

  4. avatar KirkMonster says:

    Toemaar manne. Games soos die sal so af en toe gebeur. Onthou, ons is n jong span. En ons almal weet dat Rome nie in een dag gebou is nie. En ons moet net glo in die strukture wat daar is. En Francois Hougaard het nie gespeel nie!

  5. avatar KirkMonster says:

    Toemaar manne. Games soos die sal so af en toe gebeur. Onthou, ons is n jong span. En ons almal weet dat Rome nie in een dag gebou is nie. En ons moet net glo in die strukture wat daar is. En Francois Hougaard het nie gespeel nie!

  6. avatar Yorkie says:

    Well hier is nou SW was wel verkeerd. Dis die tweede ref die naweek wat in die laaste minuut n verkeerd besluit neem teen n SA span,waar die uitslag anders kon wees, is dit toevallig of moedswillig.
    The Bulls were right to ask for a penalty on the halfway line after their winger Bjorn Basson was hurt in an incident of foul play at the end of their 29-23 loss against the Blues at Loftus Versfeld on Saturday.

    SANZAR referees boss Lyndon Bray has admitted that referee Steve Walsh “got it wrong” when he refused Bulls captain Pierre Spies’ pleas to award the penalty after the game.

    • avatar boerseun55 says:

      Hello Almal,

      Ja dit was baie hartseer om so `n vertoning van ons spog span te gesien het, ek dink eerlik waar ons het nog nie soveel aan gejaag in baie jare nie.

      Ek weet nie of my kennis reg is nie maar ek het gehoor dat die Bulle nie weer `n kontrak vir Hougaard (Derick) wil aanbied nie.

      Hy doen baie goed oorsee en as ons hom kan terug kry sal dit defnitief die Morne Steyn debakel op los.

      Maar julle weet mos, die blou bulle het nog altyd die beste losskakel tevore gebring.

      • avatar Laagvat says:

        haai boerseun, welkom hier by ons. hoop jy gesels lekker saam.

        die derick hougaard storie is nie ‘n geval van die bulle wat hom nie wil hê nie, daar was al ‘n paar tentatiewe gesprekke oor die laaste jaar of drie. die probleem is derick maak ‘n kleinhuisie vol geld in engeland, en die bulls kan dit nie bekostig nie.

        en dan in my persoonlike opinie, dink ek nie om derick terug te lok bulls toe, sal die slimste besluit wees nie. ons moet kyk na die toekoms, terwyl ons nou span bou, moet ons die jong spelers kans gee om terug te kom.

        as derick egter weer vir die bulls uitdraf in die nabye toekoms, sal ek glad nie kla nie. ons mis veral sy taktiese skopwerk, hy kon sy opponente se skouers darem lekker laat hang met sy taktiese skoppe.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?