bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Voorskou: Vodacom Bulls vs Sharks

Deur Laagvat February - 23 - 2012 - Thursday

Die Vodacom Bulls pak Vrydagaand die Sharks in die eerste Super Rugby wedstryd in die SA Konferensie van 2012. Beide spanne sal hul 2012-veldtog wil afskop met ‘n oorwinning, en daar sal geveg word vir elke sentimeter veld. In die laaste paar jare het die twee spanne mekaar goed opgekeil, en telkens was die span met die fisieke oorhand die wenner.

Die Piesangboere het al groot sukses teen die Bulls behaal deur ons baldraers agter die voordeellyn te lak. Stadige bal het dit egter vir hulle maklik gemaak. Kry die Ligbloues se groot baldraers die bal vinnig, sal die Sharks moet bont staan.

Die tuisspan sal deur Dean Greyling, Flip van der Merwe en Jacques Potgieter die voordeellyn aanvat, terwyl die sterkste baldraers vir die Sharks sal bestaan uit Bismarck du Plessis en Marcell Coetzee.

As die twee spanne teen mekaar opgeweeg word, is daar min te kies. Voorlangs reken ek die besoekers het die beter voorry, terwyl ons slotte ligjare voor Bresler en Sykes is. Ons sal veral in die lynstane probeer om soveel moontlik besit te bewerkstellig. Die losvoorspelers weeg goed op teen mekaar, met Daniel en Kankowski wat hou van ‘n oop wedstryd, waar die Bulle se lostrio effe beter toegerus is vir ‘n stryd in die loopgrawe.

Die skakelpare sal ‘n baie interessante stryd afgee. Francois Hougaard sal vir Frederic Michalak heelmiddag besig hou, en met die Fransman in sy minder bekende posisie, kan een glipsie op die verdediging, die Durbaniete duur te staan kom. Die Bulls sal seker maak Michalak se verdediging word goed beproef.

In die twee nommer 10 truie, is dit die huidige Bok-losskakel, teen menige kenner se toekomstige Bok nommer 10. Oor die twee spelers, is al menigte woorde geskryf. Die grootste pyl in Steyn se koker, is sy dodelike stelskoppe. In die oefenwedstryd teen die Cheetahs, het hy baie gemaklik gelyk om 7 uit 7 oor te klits. Lambie se stelskoppe is nog te wisselvallig om as eerste keuse stelskopper vir die Bokke uit te draf. Die jong lat wissel egter sy algemene spel baie goed af, en verdedig sy kanaal baie goed.

In die middelveld is dit die opwindende Francois Venter en Johann Sadie teen Tim Whitehead en JP Pietersen. Hier wil wil ek sê die voordeel lê aan ons kant, maar JP Pietersen is ‘n baie ervare speler, en al speel hy uit posisie, is hy moeilik om te keer met bal in die hand. Dit lyk egter of Sadie sy verdediging opgeknap het sedert hy by die Bulls aangesluit het.

Die agterste driehoeke weeg ook baie gelyk op, met die besoekers wat besluit het om Louis Ludik op vleuel in te span, sodoende die verwagte hangskoppe te probeer teenkant. Nog ‘n Bulls-speler wat sterker op die verdediging lyk, is Bjorn Basson. Dit was ‘n area van sy spel wat baie werk gekort het. Zane Kircher en Akona Ndungane se ervaring tel in die Bulls se guns, terwyl Basson en Mvovo met hul afronding hul spanne sal probeer aanspoor om te wen. Riaan Viljoen skop soos ‘n donkie, en dit kan baie handig te pas kom in die dun lug op Loftus Versfeld.

Hierdie is twee spanne wat baie gelyk opweeg. Belangrik vir die Bulls is om seker te maak dat ‘n enkele oomblik van briljantheid deur ‘n speler soos Daniel of Craig Burden, nie die uitslag bepaal nie. Maar die keer het ons vir Hougaard en Basson wat hul deel kan doen om die Durbaniete stert-tussen-die-bene huis toe te stuur.

Ek voorspel dat die Bulls ‘n baie taai wedstryd gaan wen met omtrent 5 punte.

Bulls

Zane Kirchner, Akona Ndungane, Johann Sadie, Francois Venter, Bjorn Basson, Morné Steyn, Francois Hougaard, Pierre Spies(k), Jacques Potgieter, Deon Stegmann, Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling.

Plaasvervangers: Willie Wepener, Frik Kirsten, Wilhelm Steenkamp, CJ Stander, Jano Vermaak, Louis Fouché, JJ Engelbrecht.

Sharks

Riaan Viljoen, Louis Ludik, JP Pietersen,Tim Whitehead, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Frederic Michalak, Ryan Kankowski, Marcell Coetzee, Keegan Daniel (k), Anton Bresler, Steven Sykes, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Dale Chadwick.

Plaasvervangers: Craig Burden, Wiehahn Herbst, Ross Skeate, Jacques Botes, Charl McLeod, Meyer Bosman, Paul Jordaan.

Die wedstryd skop Vrydagaand om 19:10 af, en word regstreeks op Supersport 1 uitgesaai.

3 Responses to “Voorskou: Vodacom Bulls vs Sharks”

  1. avatar Baberbok (Die Spook van Loftus) says:

    ek het baie vertroue in hierdie bul span. 12 punte!!! dis hoe ver ons gaan wen!

  2. avatar Vastrap van der Merwe says:

    Ek ook, ek hoop hulle oortref my verwagtinge.

    Ek kan nou nie meer wag vir loftus more middag nie.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?