bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

Bulls klop Kings in nat PE

Deur Laagvat February - 6 - 2012 - Monday

Lionel CronjeDie Vodacom Bulls het Saterdagaand die EP Kings in ‘n oefenwedstryd geklop met ‘n eindtelling van 16-12. Die toestande was nie ideaal nie, en terwyl ‘n oefenwedstryd gewoonlik gepaardgaan met vele foute, het die nat weer dit nog moeiliker gemaak vir beide spanne.

Afrigter Frans Ludeke het ‘n span gekies wat meestal bestaan uit spelers wat in die Vodacombeker sal speel, terwyl die Kings na aan volsterkte was. Verlede jaar het die Kings die ooreenstemmende kragmeting gewen.

In ‘n wedstryd waar die eerste skrum eers ‘n kwartier na halftyd plaasgevind het, het Wilhelm Steenkamp sy span van voor gelei, en amok gesaai in die lynstane. Volgens oorlewering het hy ten minste 4 balle gegaps op die tuisspan se ingooi. Dan het Bulls-nuweling, Lionel Cronje goed vertoon op binnesenter, en toe ook later op losskakel. Cronje het ‘n hand gehad in beide die Bulls se drieë.

Vroeg in die wedstryd het die Bulls punte aangeteken deur Jean Cook, en Sampie Mastriet-drieë, terwyl Louis Fouche nie kon slaag met die doelskoppe nie. Hy was wel suksesvol met ‘n skepskop-poging. Fouche se stelskopwerk was weer teleurstellend, en dit bly ‘n area waaraan die jong losskakel hard sal moet werk.

Uit die 4 skrums in die wedstryd het die besoekers dit reggekry om ‘n vaskop te haak, en dit klink of die lynstane ook goed verloop het.

Ludeke het die volgende te sê gehad:

“Die uitslag was uiteraard belangrik, want ons het verlede jaar se kragmeting daar verloor. Die Kings het naby die einde punte gekry en ons het goeie temperament aan die dag gelê om die oorwinning te verseker en hulle uit te hou.”

Ludeke het aangedui dat daar geen ernstige beserings is nie, en dat hy en sy mede-afrigters gelukkig is met die diepte in die Bulls-kamp.

“Dit is vroeg in die seisoen en niemand soek nou beserings nie, so ons is baie tevrede dat almal sonder probleme kon klaarmaak. Dit was ook belangrik vir die afrigtingspan om te kyk hoe goed ons reserwekrag is en ons is in ons noppies. Heelwat spelers het ons gemoedsrus gegee.”

Oor Steenkamp se leierskap, het die breier die volgende gesê:

“Hy het baie goed gedoen. Dit was ‘n snaakse wedstryd deurdat die eerste skrum eers ná sowat ‘n uur se spel was. Daar was dus baie lynstane en dryfspel en Wilhelm se opsies was goed.”

Alhoewel die Ligbloues 16 strafskoppe afgestaan het, is dit nie ‘n groot probleem vir Ludeke nie.

“’n Mens wil jou foute vroeg identifiseer sodat dit uitgeskakel kan word en ons is dus bly dat ons nou reeds kon sien waar ons nie akkuraat was nie. Daar was nie juis ‘n klemverskuiwing in die toepassing nie, ons was by tye tegnies net nie baie goed nie.”

Komende Saterdag sal die Bulls se eerste kesue spelers teen die Cheetahs speel in Polokwane. Die wedstryd word uitgesaai. Afskop is omstreeks 17:00, maar hou die blog dop vir bevestiging van die uitsaai-details en afskoptyd.
Punte

Vodacom Bulls 16 (16). Drieë: Jean Cook, Sampie Mastriet. Strafskoppe: Louis Fouché (2).
Kings 12 (7). Drieë: Mzwandile Stick, Luke Watson. Doelskop: Louis Strydom.

3 Responses to “Bulls klop Kings in nat PE”

  1. avatar Blou Koos says:

    Nuuskierig hoe Dawie Steyn gevaar in die 4 skrums en vaste-los. Laagvat, het jy al enige nuus in die gange van Loftus gehoor wie nog getrek gaan word na HM se bestuurspan…en of die BBRU gaan instem as die bestaande kontrakte in ag geneem word?

    • avatar Laagvat says:

      Haai blou koos, ek het nie enige inside info nie. Ek weet net die bulle sal nie enigiemand, of dit van graan, mcfarland, carzis of slaptjips is, maklik laat gaan nie. Dit sal te veel ontwrigting wees vir ons super rugby span.

      As heyneke wel die BBRU kan oortuig om can die afrigters vry te stel, behoort dit eers na die super rugby seisoen te wees. Hulle mag dalk toegelaat word om by te staan me die breek in super rugby, maar heyneke sal voor dan al wil beplanning doen saam die afrigters.

      Ek vermoed heyneke gaan eers teen volgende jaar sy bestuurspan he soos wat hy dit graag wil he. Hy gaan hierdie jaar dalk moet afrig met ‘n paar hulp afrigters hier en daar wat uithelp

  2. avatar Yorkie says:

    Wat se trui speel die manne, dit lyk nogal netjies miskien nie heeltemal die ligblou nie, meer warrathas blou. Is dit dalk die wegtruie?

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?