bloubulblog.co.za

Die nie-amptelike Blou Bul ondersteuners blog

o21s eindig bo aan punte-leër

Deur Laagvat October - 17 - 2011 - Monday

Die Blou Bulle se o21 span het Vrydagmiddag op Loftus hul eweknieë van die Luiperds met 49-25 geklop om in die eerste posisie op die punte-leër te eindig.

Met die Pretorianers se senior span wat nie kon kwalifiseer vir die halfeindrondtes nie, sal daar nou groot druk wees op die o21s, en o19s om silwerware na die Jakarandastad te bring.

Die Bulle se losskakel, JC Roos het in die eerste 10 minute twee strafskoppe oorgeklits. Die vroeë voorsprong is egter kort daarna uitgewis deur ‘n verdoelde Luiperds-drie gedruk deur Marcel Groenewald in die 12e minuut om sy span ‘n voorsprong van 7-6 te gee.

Kort daarna het Ernst Erasmus en Roos strafskoppe uitgeruil om die telling na 10-9 te vat by die kwartuur-merk. In die 22ste minuut het die opwindende flank, Wiaan Liebenberg oorgeduik, en Roos het nie ‘n fout gemaak met die doelskop nie. Die Luiperds het geantwoord met nog drie punte deur Erasmus se betroubare skopskoen, en die wedstryd was nog enigiemand s’n met ‘n telling van 17-13.

Kort voor halftyd het Roos sy eie drie verdoel, net om kort daarna die veld te verlaat met ‘n besering. Jono Ross kon ook gaan druk in die laaste oomblikke voor halftyd aangebreek het. Roos se plaasvervanger, Willie du Plessis het sy eerste doelskop met sukses deur die pale gejaag, om die tuisspan met 28-13 voor te laat loop.

Die klein skare moes met die aanvang van die tweede helfte 20 minute wag om punte te sien, toe Courtnall Skosan sy 5de drie van die seisoen gedruk het. Weereens het du Plessis nie fout gemaak nie, en die wedstryd was so te sê gedane saak met ‘n telling van 35-13.

Die besoekers het egter nie gaan lê nie, en Ernst Erasmus kon in die 65ste minuut nie sy eie drie verdoel nie. Clayton Blommetjes en Ulrich Beyers het albei agter die Luiperds se doellyn gaan kuier in die laaste 10 minute met du Plessis wat altwee kere verdoel het.

Die laaste sê het egter aan die Luiperds gegaan toe hul linkervleuel Erasmus sy tweede drie gaan druk het, en dit ook verdoel het. Hou gerus die naam van Ernst Erasmus dop in die toekoms, sy persoonlike bydrae op die dag was 20 punte met 2 drieë, 2 doelskoppe, en 2 strafskoppe.

Hierdie 021 span van ons speel Vrydagaand om 17h00 op Loftus teen die Leeus in die eerste halfeindstryd, terwyl die WP en die Sharks sake sal uitspook in die tweede semi-finaal.

Sommer net so vir interessantheid, Sampie Mastriet het loshande die meeste drieë (15) in die seisoen gedruk. Die Bulletjies het ook gemaklik die meeste punte aangeteken die seisoen, en slegs die WP kon minder punte afstaan.

Die puntemakers:

Blou Bulle

Doelskoppe: JC Roos, Willie du Plessis (4).

Strafskoppe: Roos (3).

Drieë: Clayton Blommetjies, Jono Ross, JC Roos, Sampie Mastriet, Ulrich Beyers, Wiaan Liebenberg

Luiperds

Doelskoppe: Ernst Erasmus (2).

Strafskoppe: Ernst Erasmus (2).

Drieë: Ernst Lodewyk Erasmus (2), Marcel Groenewald.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.

Wil jy deel wees van blou bul blog?